Eksamen = Waaroor gaan dit eintlik vir my?

June 3, 2019

 

 

Dit is weer sulke tyd.  Vir my is dit die eerste.  Natuurlik het ek al baie eksamens geskryf, maar om een of ander rede was dit vir my baie minder stresvol as my kind se eksamen.  Seker omdat ek 'n ma gehad het wat vir my part gestres het.  Die kanse is goed, want ek was die eersgeborene en nie baie lief vir leer nie. 

 

Tog hou ek myself kalm met die woorde "dit is maar net graad 4".  Tot ek tussen mede-mammas beland en besef ek is dalk TE koel en kalm.  Ek pluk die handboeke en werkboeke uit, stel eksamen roosters op, druk vraestelle uit. Ek voel weer rustig, want ons ammunisie is reg.  Tot ek hoor "ons" moes eintlik al weke terug geleer het & om nou skielik weg te spring gaan nie veel help nie.  My selektiewe gehoor besluit om daai een uit te skakel.  So breek eksamen aan. Dit gaan dag 1 en 2 goed want alles is mos nog nuut en snaaks.  Ons is in beheer.  Tot naweek kom.  Die buitelug wink vir sussa, dan pyn haar kop, dan stamp sy haar toon, dan breek haar leesbril... Mamma raak nog meer gestres en pappa probeer die vrede bewaar deur die studie-leisels oor te neem. Weet nie of hy meer bekommerd is oor die ma se gesondheid of die dogter se veiligheid nie.

 

Intussen vryf die mammas mekaar ook verkeerd op.  Dit is die "worry-te-veel-mammas" vs die "ek-is-kalm-mammas" en iewers tussen in is dit die wat so 50/50 is.  Dit is die deel waar ek myself afvra in watter kategorie ek val?  Wanneer gee jy te veel om en wanneer gee jy te min om. Wie is reg en wie is verkeerd?

 

Ek onthou ons oogkundige se woorde.  Dr Le Roux is al 'n wyse ou man, pa en oupa.  Met sy stadige, uitgerekte stem sê hy vir my: Jy weet.  My kinders het almal vandag 'n graad.  Op skool het ek vir hulle gesê, SPEEL.  Speel julle harte uit.  Dan eers in graad 11 & 12 sê ek vir hulle, nou het julle klaar gerus.  DAN leer hulle.  In universiteit, dan gee jy ALLES wat jy het.  Hulle het goed gedoen en hoekom? Want hulle het lank genoeg laat gerus". 

 

Natuurlik het Dr Le Roux nou nie sy kinders in vandag se tyd groot gemaak nie en dit is seker bietjie te vêr gevat om te sê hulle moet RUS, maar ek kom agter wat Dr Le Roux vir hierdie jong mamma probeer sê.  Vandag se tyd moet jou kind mos "above average" wees.  As hulle nie op die verhoog staan nie, is hulle nie slim nie.  As hulle nie eerste span speel nie, is hulle nie goed genoeg nie.  Jou kind moet mos 'n gawe hê. Dan kry jy die KOEL ouers.  Die wat mos weer nie omgee nie.  Hulle gee nie om vir skool reëls nie.  Hulle gee nie om vir fondsinsamelings of skool geleenthede nie.  Hulle gee nie om vir akademie nie. Die lewe is lekker en hy moet geleef word. Dit is hier waar ek my oupa se woorde onthou.  Alles met 'n TE aan is TE VEEL

 

Eintlik is jou kind se skooljare maar net die opwarming voor die wedloop. Die opwarming is van kardinale belang, maar die eindresultate word eintlik eers gesien in die wedloop.  In 'n proses om weer sin te maak oor die lewe vra ek myself af wat wil ek graag vir my kinders hieruit leer? Hoekom is dit alles vir my so belangrik?  My vriendin stel dit toe so mooi:  Hoekom karring ons so aan ons kinders om te leer?  Hoekom is dit eintlik vir ons so belangrik?  Nie almal wil hul kinders op die top 10 lys hê nie, maar ons wil ons kinders leer om verantwoordelikheid te neem en hard te kan werk.  Wanneer daardie eksamen blad voor hulle verskyn, wil ek hê my kind moet trots kan voel dat sy hard geleer het ongeag die uitslae.  Vir sommiges beteken dit 90% en vir ander 60%.  Maar hulle moet weet, dit is goed genoeg want hulle het hard gewerk. Hulle moet kan goed voel oor hulself en tevrede wees.

 

Nie almal hoef te mik vir daai doktorsgraad nie.  Die samelewing het meer as dit nodig.  Ons benodig ons klerke, ons haarkapper, ons kunstenaars, ons handelaars..... Wat okal die rigting is wat hulle kies.  Ongeag hul status en inkomste. Benodig ons 'n hardwerkende en verantwoordelike generasie. 'n Generasie wat die balans van die lewe kan begryp. Kom ons leer dit nou al vir hulle.  

 

NB:  Laat ek byvoeg, dat hierdie skryfstuk nie op 'n spesifieke persoon gemik is nie, maar bloot 'n gedagte.  

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now