Dankbaarheid is prakties

May 7, 2019

 

 

So maklik rig jy jou oë op ander se lewens en lyk alles blinker en groener aan hul kant.  Kyk hoe maer is Sannie en ek moet swoeg en sweet net om 'n kilogram af te skud.  Marie het weer 'n nuwe kar.  Lettie bou 'n nuwe huis.  Katryn se kinders blink in alles uit.

 

So neem die groen-oog monster oor.  Jou fokus is gedurig op wat ander het en in die proses raak die waardering vir jou eie lewe en besittings al hoe minder.  Stukkie vir stukkie word jou lewensvreugde afgebreek.  "What separates privilege from entitlement is gratitude". Vriende en geliefdes spot my al oor my Brene Brown aanhalings.  Ek is 'n reuse aanhanger van haar praatjies en boeke.  Grotendeels omdat daar soveel waarheid daarin steek en ook omdat dit op navorsing gebaseer is.  

 

Met 'n graad in sielkunde het sy vir jare navorsing gedoen oor 'n heelhartige lewe (wholehearted living).  Wat maak dat sommige mense net gelukkiger en meer tevrede is as ander?  Hierdie mense het gewoonlik nie 'n makliker lewe as ander nie.  Hulle is nie meer welaf.  Hulle is nie mooier of maerder.  Tog straal hulle 'n tevredenheid uit en geniet die lewe net soos hy is.  Brene Brown se woorde lui: "I don't have to chase extraordinary moments to find happiness - it's right in front of me if I'm paying attention and practicing gratitude".  

 

Die mensdom is gedurig besig om iets na te jaag in die proses om hom/haarself gelukkiger te maak.  As my huis groter is, sal ek gelukkiger wees.  As ek maerder is, sal ek vir my mooi klere begin koop.  As ek net meer tyd gehad het, het ek begin draf. As, as, as....  So "as" ons ons lewens om.  Bietjie vir bietjie.  Ons dink dat as ons hierdie goed het, ons meer vreugdevol en dankbaar sal wees.  Die mensdom dink hy het 'n reg op alles.  Daarom word daar geboue afgebrand en optogte gehou deur mense wat dink hulle het 'n reg om goed te kry.  Ons dink ons is geregtig op vryheid van spraak, geregtig op gemak, geregtig op goeie welstand, geregtig op geluk.

 

Hoe raak mens dankbaar? Hoe raak jy vreugdevol sonder al hierdie goed?  Dit het niks te doen met jou geloof of jou beterskap nie.  Dit is iets wat prakties beoefen moet word.  Dit is 'n nuwe gewoonte wat aangeleer moet word en elke dag beoefen moet word.  Dit is 'n nuwe manier van dink.  'n Nuwe manier van praat. Dit behels om op te hou kla en negatiewe woorde uit te spreek.  Dit behels om opbouende woorde plaas van afbrekende woorde te gebruik.  Dit is moeilik, vrek moeilik.  Juis oor dit so teenstrydig is met ons klaende samelewing.  

 

Ek het 'n besluit geneem dat ek verkies om nie langer te kla of te wens vir beterskap nie. Om eerder te fokus op wat ek wel het.  Wat baie meer is as wat ander mense het.  Om dagboek te hou van alles waarvoor ek dankbaar is.  Om elke oggend dankie te sê vir iets.

 

Dankie vir 'n veilige nagrus.

Dankie dat ons nog 'n dag gespaar is.  

Dankie vir gesonde kinders.

Dankie vir my gesondheid.

Dankie dat ek my kinders kan sien grootword.

Dankie vir my liefdevolle eggenoot.

Dankie vir die mooi omgewing waarin ek woon.

Dankie vir die sonsopkoms.

Dankie dat ons kon saai vanjaar.  Dankie vir die reën wat gaan kom op die regte tyd.

Dankie vir my ouers.

Dankie dat ek kan sien, kan hoor, kan lag, kan gesels, kan leef.

Dankie vir die goeie jare saam met my oorlede ouma en skoonpa.

Dankie vir die dak oor my kop.

Dankie vir water.  Dankie vir elektrisiteit.

Dankie dat ek vandag kon kos koop sonder om te wonder hoe ek kos vir my kinders gaan gee.

Dankie vir goeie onderwysers en 'n skool.

Dankie vir opvoeding.

Dankie vir vryheid van spraak.

Dankie vir vryheid van geloof.

Dankie vir 'n omgee-gemeenskap.

Dankie dat ek weet U is in beheer.

 

Wanneer mens eers begin, is daar so baie om voor dankie te sê.  Dit beteken nie ek gaan nie vandag iewers ondankbaar wees nie.  Dit beteken nie mense gaan my nie kwaad maak nie.  Dit beteken nie ek gaan my dag om sing soos in 'n Disney fliek nie.  Ek gaan juis nou meer as ooit uitgedaag word juis oor ek daarop gefokus is.  Dit beteken net ek gaan tevrede wees met wat ek het en wat gebeur. Dat ek dankbaarheid gaan toepas. Dit is 'n proses.  Probeer dit.

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now