Nostalgie

 ‘n Ruk gelede het ek vir my pa gesê ons hou die weer dop voor ons, ons vakansie-planne finaliseer.  Sy antwoord was: “Nee, my kind! As die weer slaan, slaan terug. As die dag breek, maak hom heel. As die pad doodloop, begrawe hom.” 
Is ek net té nostalgies? Dis vir my so mooi...
Vat moeilike situasies aan met moed. Gryp elke dag aan net soos hy is. Los die slegte dinge agter jou.

 

My ouers woon in die Karoo en dit is baie droog. Dit is hartverskeurend om te sien hoe boere letterlik nie meer kos het vir hul diere nie. Toe ons die naweek by hulle kuier en een van die boere by hom kla, ag, nie eintlik kla nie, net  sommer mismoedig is, sê my pa vir hom: “Jy moet bly wees dit is droog. As dit droog is, weet jy, dit moet weer kom reën. As dit reën, weet jy, dit gaan weer droog raak.”  

 

Toe ek my pa bel met sy verjaarsdag,  5 Maart, sê hy vir my dat die maan die vorige aand geskep het, so die groot dak gaan lek in Maart. Dit was fantasties om te hoor dit gaan reën en dit was besonders lekker om dit op so 'n manier te hoor. Mens hoor deesdae min mooi, ryk uitdrukkings. 
Nodeloos om te sê, ek het al my pa sy uitdrukkings vir my eie kinders en my leerders (gr.4 – 11) oorgedra en verduidelik. Dié uitdrukkings, het op sommige leerders se gesigte uitdrukkings gelaat, wat ook ‘n uitdrukking nodig het...

 

Maar, kinders is skerper as wat ons dink. Kinders verstaan meer as wat ons dink en wil meer leer as wat ons dink.
Toe ek klein was, het ek elke Karoo-bossies se naam geken. Ek het besef ek ken nog nét die renoster- en vye bos se name. Ek het besef, as ek dit nie vir my kinders leer nie, wie gaan dit leer. Dit gaan eenvoudig net verlore raak. Baie sprokies se fyn besonderhede het ek al vergeet...
Blomme, patrone, resepte, plante, paaie, berge, stories: ons almal het met iets grootgeword. Ons moet dit lewendig hou. Die voortbestaan van ons kultuur en kennis is in ons hande.
 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now