Tydsbestuur

February 22, 2019

 

Dit is daardie tyd van die jaar.  Almal koop kalenders; memo borde word opgesit; ons gebruik Google-kalender; kraakvars dagboeke word oopgemaak; kinders begin skool met splinternuwe skryfbehoeftes, nuwe tasse en nuwe boeke; gesinne gaan sit om die tafel om die daaglikse roetine te bespreek; nuwe voornemes word geneem, ons is in beheer en almal is sommer lus vir georganiseerd wees!

 

Die eerste deel gaan heel goed.  Die kinders is gretig om skool toe te gaan en staan dus uitgerus soggens op; mamma onthou die ouervergaderings; daar word notas gemaak en huiswerk-hoekies geskep; die skrif in die dagboeke is mooi en almal werk saam.

 

Dan skop die realiteit in.  Daar word amper verslaap. Sussie staan nie meer met 'n glimlag op nie.  Die maats is ook nie meer so vriendelik by die skool nie.  Boeke word by die huis vergeet.  Vergaderings word vergeet.  Die notas op die memo-bord word nie meer gereeld opgedateer nie.  En dit is nog net Februarie!!!! Hoe nou?  Die vraag op almal se lippe....Tydsbestuur?!

 

Kyk, ek het al drie Pinterest profiele met drie verskillende Organiserings-borde.  Later is die "board" so vol, dat ek dit in sub-kategorieë moet plaas.  Sodra my kaste, huis, kantoor, motor en kinders se dinge georganiseerd is; voel ek soos Martha Stewart.  Die vraag is dus nie hoe bestuur jy jou skedule nie, maar hoe bestuur jy dit sonder om te stres of sonder dat die pap op die grond val.

 

Ek het na vele studies die afleiding gemaak....jy doen nie! Ja, dit is reg.  Onthou, Martha Stewart het vele persoonlike assitente wat haar help.  Ons gewone mammas aan die anderkant moet 'n string rolle vervul.  Natuurlik gaan jy dan nie al die balle in die lug kan hou nie en natuurlik gaan jy iets vergeet.  Hoe gouer jy daarmee vrede maak, hoe beter.  Dit was nou natuurlik stap 1.  Maak vrede met jou menslikheid!

 

Stap 2.  My gunsteling sêding wanneer 'n mede-mamma sê: "Hoe kry jy tyd daarvoor?" is, "Ons almal kry 24 uur in ons dag!"  Dit is jou keuse waarmee jy dit wil vul.  Ek het tot die groot besef gekom wanneer ek na ander kyk en hulle beny vir die manier hoe hulle hul tyd bestee, dat dit ons elkeen se keuse is waarop jy jou tyd bestee.  Natuurlik is daar baie areas waar ons nie vrye wil kan bestuur nie bv. sommiges van ons moet werk terwyl ander tuisbly-ma's is.  Sommiges van ons is ons eie base terwyl ander by streng kantoorure moet hou.  Dan MOET ons kos maak; ons MOET wasgoed was en huis skoonmaak; ons MOET gaan kos koop en ons MOET huiswerk met ons kinders doen, hul sport bywoon....so gaan die lysie net aan.  Sommiges se lysies is langer, ander weer korter.  Maar wanneer jy al die moets afmerk, wat bly oor? Drawwers vul hul dae met 'n drafsessie; fietsryers met 'n fietsry-sessie; kunstenaars doen iets kreatiefs; ens.  Hoe vul JY jou dag?  So het ek al verskeie kere geleer wanneer ek 'n nuwe daaglikse aktiwiteit byvoeg soos bv. oefening, stilte-tyd, ens. dat daar nogsteeds 24 uur in my dag is!!! Dus is die vraag, "Hoe bestuur jy jou 24 uur?" Wat okal jy met jou tyd doen, wees kieskeurig.

 

Stap 3. Kies jou stres! Dit is seker die deel waar jy nou gaan sê: "Makliker gesê as gedaan!" Ek is met jou.  Ek is die laaste mens wat raad moet gee oor stres.  My man sê ek is soms 'n Energized-bunny of 'n borrelende stoompot soos ek gestres deur my daaglikse verrigtinge gaan.  Sommige mense kry dit net makliker reg om grasieus deur hul dae te "float".  Of so lyk dit!  By my is dit 'n daaglikse keuse.  Dit is 'n innerlike stryd en besluit.  Ek moet myself gereeld herinner en motiveer.  Stres is een van die grootste oorsake van siektes.  Stres steel vreugde.  Stres steel tyd.  Daar is natuurlik sekere areas waaroor ons nie kan help om te stres nie, soos finansies, siektes, ens. maar dan is daar hierdie "nitty gritty" goed....

 

Gister klim my seuntjie in die kar na speelskool en sê: "Mamma, ons moes vandag 'n groen hempie aangehad het."  Hy het 'n blou hempie aangehad en hulle doen kleure die week.  Die perfeksionis in my wil sommer net stres, maar ek keer myself en sê "Oeps, toemaar...more doen ons dit weer reg." Mammas! Ons is hopeloos te hard op onsself!  Volg die 80/20 reël.  Doen alles wat jy kan vir jou kinders; maar wanneer jy "opslip", skud dit af en beweeg aan!  Ons kindertjies gaan OKAY wees.  Hulle het in elk geval bo-gemiddelde lewens.  Wat jou nie breek nie, maak jou sterker en dit is goed as hulle dit vroeg al kan leer.

 

Dan kom ons by stap 4.  Hierdie een is baie belangrik en nou sal jy stap 2 en 3 ook beter verstaan.  Stel jou grense!  Moenie dat ander jou tyd vir jou probeer reël nie.  Elkeen se idee van wat is belangrik vandag, verskil.  Maak jou lysie van die dag en hou daarby.  Enige nuwe versoeke kan wag tot wanneer jy tyd het.  Sê meer NEE.  Daardie ouerkomitee kan sonder jou klaarkom.  Jy hoef nie vir elke sosiale geleentheid ja te sê nie.  Bestuur jou weeklikse program om dinge vir JOU makliker te maak.  Dit is nie die moeite werd as dit jou ongelukkig en meer gestres maak nie.  Wanneer jy iets doen, maak seker jy doen dit met die regte gemoed.

 

Stap 5.  Hou op leef vir eendag.  Dit is goed om drome en ideale te hê.  Maar hou op dink "eendag" gaan die son helderder skyn.  Jy weet nie wat die volgende dag inhou nie.  Geniet vandag.  Al is dit net 'n gewone dag.  Dit mag dalk jou laaste wees.  Geniet jou kinders NOU.  Geniet jou man NOU.  Ons is altyd besig om vorentoe te leef, dat ons vergeet om in die NOU te leef.  Ek ken mense wat vir die laaste 10 jaar al sê "eendag" en hulle is nogsteeds waar hulle was.  Gryp elke geleentheid aan. Geniet die eenvoud van vandag. 

Geniet wat jy nou het.  Waardeer wat jy nou het.  Sê dankie vir wat jy het.  Bel daai persoon wie die heeltyd in jou gedagtes is.  Maak die beste van jou oorgewig lyf tot jy die 10kgs afgeval het.  Smag jy na 'n beter woning? Maak die een wat jy het solank skoon en mooi.  Op skool het my ouers hul besigheid verloor.  Ons moes ons heerlike huis verkoop en in 'n huurhuis intrek.  Nogtans het my ma vir ons nuwe beddegoed gaan koop en elkeen van ons se slaapkamers mooi gemaak met items wat sy gehad het.  (Nou nog kan sy met amper niks, 'n vertrek opkikker.)  Sy het nie terug gekyk na wat verlore is nie, maar die beste gemaak van waar sy haarself op daai oomblik bevind het.

 

 

Die wyse Abraham Lincoln het gesê: "Discipline is choosing between what you want now and what you want most" en David Duchemin: "Guard your time fiercely.  Be generous with it, but be intentional about it"

 

 

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now