Rome

February 6, 2019

Rome

 

Dag 1:

 

Land in Rome rondom 11:00.  Ons het op 'n Sondag geland, wat beteken dat ons eintlik toe 'n hele dag verloor aangesien al die katedrale en sommige piazzas gesluit is. 

 

Ons het 'n taxi vooraf gereël deur www.booking.com se Rideaways wat op tyd was en vir ons in gewag het by die lughawe.  Dit is handig, want meeste drywers se Engels is so swak dat dit te moeilik om rigting te kommunikeer.  Hulle het vooraf die details van ons bestemming gehad, dus hoef ons nie te gekommunikeer het nie waarvoor ek dankbaar was.

 

 

 

WENK:  Maak seker jy het al die adresse en inligting uitgedruk op papier vir wanneer jy rigting by Italianers soek.

 

Ons het ook eerste ding 'n sim-kaart gekoop vir ons foon by 'n stalletjie op die lughawe.  Ek sal aanbeveel dat jy eerder na 'n selfoon winkel toe gaan of vra dat hulle die simkaart daar in jou foon moet sit.  Ons het 'n ekstra foon gehad wat in ons tas was en het toe besluit om self later die simkaart in te sit. Groot fout. Vra ook die persoon om op jou foon te wys hoeveel data en lugtyd op jou foon is en ook om te verduidelik hoe om nuwe data/lugtyd op te laai.

 

Aangekom by Suite Deal was hulle so gaaf om ons bagasie te akkomodeer terwyl ons moet wag vir ons kamer.  Ons het 'n kaart gekry en die omgewing gaan verken.  Suite Deal se kamers was modern, mooi en baie gerieflik.  Pragtige uitsig op tuine en die diens was vriendelik en behulpsaam.  Ook is hul naby die treinstasie gelëe asook die Rooi Bus se eerste stop.

 

WENK:  Vra altyd eerste by jou akkomodasie vir 'n kaart van die stad.  Vra dat hulle die hotel/woonstel moet omkring en die gewilde besienswaardighede ook omkring, sodat jy 'n idee het van hoe om weer terug te kom.

 

Die Kapenaars wat ons is, het ons eerste ding 'n wyntjie gaan bestel by die naaste Bistro.  Ons het gou afgelei dat in Italië jy nie voor 13:00 wyn bestel nie en veral nie op 'n heilige Sondag nie.  Dit is die tyd wat hulle allermins nog ontbyt eet.  

 

WENK:  As hulle as groep toer, bestel eerder 'n bottel wyn as 'n wyn per glas.  By meeste restaurante betaal jy vanaf 7 euro per glas en dan word hy ook net 'n kwart gegooi, waar met 'n bottel werk dit jou goedkoper of dieselfde uit, maar jy kry darem 'n vol glas.

 

Ons het daarna gaan rus voor ons regmaak vir ons volgende aktiwiteite.  Ons moes naby die Colosseum bymekaar kom vir ons Segway-toer die aand.  Ons het besluit om die Roma pass te koop, so kan ons meer van die stad sien en dan by die naaste punt van die Colosseum afklim met die bus.  Ons was gelukkig dat die eerste stop-punt naby ons hotel is.  Die Roma pass sluit in: bus kaartjie, kaart van die stad en 1 museum verniet.  Jy kan ook skip-the-line kaartjies vir goedkoper koop, wat beslis 'n moet is.  Ons het gegaan vir die 48 uur een van 28 euro. Jy kry ook die 72 uur van 38.50 euro.  Natuurlik is daar ook die Omnia pass wat duurder is, maar meer voordele in hou. Werk uit wat vir jou sal pas.

 

WENK:  Jy hoef nie hierdie kaartjies vooraf te koop nie.  Oral staan verkoopsmense op die sypaadjies met brosjures wat dit verkoop. Ook is daar 'n kantoor by Rome se lughawe.

 

Ons het eers met die Colosseum langs gestap tot by die kantoor van die Segway aandtoer.  Hierdie is 'n moet!!!

 

 

Ons het die Highlights of Rome by Night  geboek deur Tripadvisor.  Die toergidse was fantasties.  Baie snaaks en baie pret.  Dit is 'n maklike en vinnige manier om deur die stad te gaan en jy lag baie lekker vir mekaar wat soms so sukkel met die Segways.  Die humor van die gidse het opgemaak vir die feit dat ons baie moeg was na ons vlug.  Hulle het vir ons al die bekende piazzas gewys, wat lekker is as jy weer die volgende dag wil teruggaan.  Rome is beslis 'n ander prentjie in die nag.

 

My grootste ontnugtering was toe ek nie 'n muntstuk in die Trevi fountain kon gooi nie oor 1) ek nie 'n muntstuk op my gehad het nie en 2) dit so verskriklik beknop was met mense.  Die jongmense en toeriste het die fontein behoorlik toe gesit en jy moes taamlik deurdruk as jy wil voor kom.

 

 

 

Dag 2:

 

Skaam om te sê, maar die eerste oggend in 'n nuwe land en ons verslaap.  Daarna verdwaal ons ook nog, dus mis ons die Vatican uitstappie wat ons klaar geboek en betaal het deur www.getyourguide.com.  Ek sal eerder aanbeveel om gebruik te maak van toermaatskappye wat 'n kaartjie kantoor in die omgewing het.  So kan mens maklik om hulp vra wanneer jy dit benodig.  Gaan kyk vooraf wat soortgelyke toere kos en sorg jy is vroeg by die Vatican.  Daar loop talle toergidse rond wat kaartjies verkoop asook baie kantore. 

 

Kyk na die volgende:

 

-  Dat dit 'n "skip-the-line" insluit

-  'n Gids gebruik wat deur 'n audio-stelsels praat (dit raas baie daar binne)

-  Dat dit die Sistine Chapel en St Peter's insluit

 

Meeste toer blogs beveel aan dat jy vroeg gaan, maar volgens my was dit vroeg alreeds erg vol en baie warm.  As jy dink jy gaan lank en rustig na 'n kunsprent staar, maak jy 'n fout.  By die Vatican word toergroepe deur gewerk soos 'n worsmasjien. Dit is warm en bedruk, maar nogtans 'n belewenis.

 

Jy begin by die kant van die Vatican Museum en eindig by die St Peter's waar jy dan alleen gelaat word om alles rustig te besigtig.  Die Chapel is 'n heilige plek vir die Katolieke en baie mense sal daar gaan sit en bid.  Hier word jy vinnig stil gemaak as jy bietjie te veel raas.

 

 

 

 Na ons uitstappie by die Vatican City het ons almal genoeg gehad van geskiedenis en kunste.  Selfs al is ek hoe lief vir dit!

 

BELANGRIK: Hou jou sakke styf vas en dra belangrike items teenaan jou bv. 'n "sling bag". Daar is baie "pocket pickers" daar rond en mense wat 'n geselsie probeer voer om jou aandag af te trek.

 

Wenk:  Lees vooraf die geskiedenis op van die plekke waarheen jy wil gaan.  Boek net 1 groot kultuuruitstappie per dag en loop deur die buurte en piazzas die res van die dag.

 

Ons het die strate verder gaan verken.  Gelato gaan baie goed af op so 'n warm dag.  Alhoewel jy by talle blogs kan gaan oplees waar jy die beste gelato kan kry, moet jy ingedagte hou die areas waar jy jou gaan bevind. Jy gaan nie regtig draaie loop net vir 'n gelato nie, terwyl dit baie volop oral in Rome is.

 

Wenk:  Moenie sommer water koop nie.  Kyk uit vir plekke waar jy vars water kan tap.  Die wonderlikste ding van Rome is, hier is water volop en hoef jy nooit dors te loop nie.  Oral is daar fonteinkrane en die water is skoon en vars!!!

 

 Die pad het ons verder gelei via St Angelo Castle en oor die kasteel se brug na die rooi bus se stop.  daar opgeklim, het ons weer by die volgende stop afgeklim waar ons die strate verken het tot by The Spanish Steps.  Daarna het ons al die gewilde strate van die omgewing verken, winkels besigtig, paar items gekoop en ons neergeplak by 'n Restaurant en mense bekyk.

 

Wenk: Vanaf 6nm kry jy Appertivo (voorgereg) verniet by sekere restaurante.  Ek het die lekkerste olywe nog in Rome geëet.  Italianers hou van kuier om die tafel en etes so uit te rek.  In Italië is die naglewe fantasties.  Winkels bly maklik oop tot 22:00 saans.  Hier raak die stad nie sommer gou rustig nie. Seker waarom ons die eerste oggend verslaap het!

 

 

 

 

Dag 3:

 

Ons eet 'n heerlike ontbyt by die naaste bistro.  In Rome (en baie ander dele van Italië) betaal jy duurder vir 'n koffie as jy sit en drink.  Om geld te bespaar, staan by die toonbank en gooi jou koffie maar daar af.  Niemand vind dit daar snaaks nie.  

 

Die keer het ons egter gaan sit en 'n heerlike kombinasie van croissants saam met ons cuppacino geniet.  Croissants gevul met Nutella, konfyt en Pistachio!!!! Mmmmm...hoe water my mond nou.

 

Daarna het ons 'n taxi gevat na die naaste buusstasie waar ons die 2 ure busrit moes vat na ons volgende bestemming....Siena!

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now