Aspergers: Die diagnose

November 28, 2018

 

 

Vir maande lank het ek hierdie artikel begin skryf net om dit weer uit te vee.  Bang vir mense se opinies.  Bang om bespreek te word.  Bang om my kind te brandmerk. Ek is bly ek het eers gewag.  Wanneer jy so 'n diagnose kry, is daar fases waardeur jy daarna gaan.  Elkeen hanteer so iets anders, maar dit is hoe ek dit ervaar het:

 

Fase 1:  

 

Vir jare het ek antwoorde gesoek.  Ek het geweet my kind is anders en wou weet wat fout is.  Ek wou haar verstaan en ek wou weet hoe ek haar kan help.  Toe my dogtertjie op die ouderdom van 6 jaar finaal gediagnoseer is, het ek 'n emosie van verligting ervaar.  Ek het genoeg oor die onderwerp opgelees om dit te vermoed.  Vir die eerste keer het dit vir my gevoel iemand sien dit ook raak.  In hierdie geval was dit die sielkundige.  

 

Fase 2:  

 

Ek het gedink ek is gereed om die nuus met ander te deel, maar dit was 'n fout.  Mense is oningelig en lewer hul opinies gebaseer op die bietjie wat hulle weet. 

"Share your story with people who have earned the right to hear your story" - Brene Brown. 

Dit was vir my interessant die verskillende maniere hoe mense op die nuus reageer: 

*  Daar was die een wat simpatiseer en sê sy is jammer.  Dit was die ma/pa wat eintlik probeer sê: "Ek weet glad nie wat jy deurmaak nie, maar ek voel vir jou". 

*  Dan was daar die een wat belangstel en omgee.  "Hoe het jy geweet? Wat is dit presies?" 

*  Die volgende soort was die een wat vir jou raad probeer gee.  Jou vertel van een of ander wondermiddel en suksesverhale met jou deel.  Hulle wil regtig help en dit is al hoe hulle weet hoe. 

*  Dan was daar die een wat glad nie reageer nie, dalk wegkyk of sommer die onderwerp verander.  Daar is twee verklarings hiervoor: 

a)  Hulle weet nie wat dit is nie 

b) Hulle glo nie in ADHD/ADD/Aspergers/Outisme en dink dit is 'n opgemaakte woord vir 'n "stout" kind.  Dit is gewoonlik die ma wat self onderwys geswot het en dink sy weet, gebaseer op die een hoofstuk wat sy daaroor hanteer het.  Dit is die ongevoelige ma wat sê: "O, dan het my kind dit ook", wanneer jy die simptome verduidelik.  Dit is die ma wat oningelig is en oningelig gaan bly oor sy nie ooit self met dit te doen sal hê nie.

c) Hulle weet nie hoe om 'n emosionele konneksie met ander se seer te maak nie. Ander se seer maak hulle ongemaklik.  Ander se seer is vir hulle te diep.

Dit was hulle wat my die seerste gemaak het, maar wie ek ook nou die jammerste kry.  Dit was ook hulle wat my terug in my dop laat kruip het en laat besef het ek moet eers myself ten volle inlig voor ek my hart op my mou plaas.

 

Fase 3:  

 

Hierdie was die fase waar ek myself begin inlig het.  Ek het alles rakende Aspergers begin oplees.  Tony Attwood se videos en boeke is fantasties.  Ek het aangesluit by Asperger-mammas groepe. Ek het met mede-mammas begin gesels wat al lank die pad stap.  

Voor jy oorlog toe gaan, maak jy altyd eers seker jou ammunisie is reg.  Ek het seker gemaak ek is gemaklik met die informasie voor ek weer 'n gesprek rakende Aspergers aanvat.  (Om eerlik te wees, ek verkies om deesdae eerder stil te bly en hulle oor te laat aan hul eie opinies)

Ek het die skool gaan besoek en met hulle die diagnose gedeel.  Ek het my groepie gekies met wie ek dit deel.  Ek het my bid-vriendinne gevra om vir ons te bid.  Ek het meer begin bid.  Ek het ons weeklikse program begin afskaal om dinge vir ons almal makliker te maak.  Ek het begin rus, my stokperdjies weer beoefen en ek het besef ek moet beter na myself omsien sodat ek 'n beter ma vir haar kan wees.

 

Fase 4:  

 

Hierdie is seker die heel beste fase waarin jy jouself betree.  Dit is die fase van aanvaarding.  By fase 1 het ek die diagnose aanvaar, maar hier is dit waar ek my kind se uniekheid heeltemal aanvaar.  Ek hoef nie meer verskonings te maak nie.  Ek hoef nie te verduidelik nie.  Ek soek nie meer wondermiddels nie.  Ek sien dit nie meer as 'n probleem nie, maar 'n gawe.  Ek wil nie my kind verander nie, want sy is uniek.  Ek wil haar nie in 'n boksie plaas nie, maar die boksies vir haar aanpas. 

Wie ken haar nou beter as haar Skepper en dit is waar ek besluit om aan te klop vir hulp en krag.  Ek doen my deel.  Ons volg ons roetines, kommunikeer met haar skool, doen terapie, ry perd en volgende jaar kry sy ook 'n fasiliteerder. Alles om die lewe vir haar makliker te maak, maar nie om haar te probeer fix nie.

 

Outisme/Aspergers het vele uitdagings en dit is nie maklik om so 'n kind groot te maak nie.  Hier is ek ook dankbaar vir ondersteuning van onderwysers, terapeute, die Neurocentre, mede-mammas, ons familie en mense wat haar liefhet.

Sy het my so baie van die wêreld geleer.  Terwyl ek haar probeer verander het, het sy my verander. Dit is vir my lekker om deur haar oë te leer kyk.  Ek eindig af met Temple Grandin se woorde:  

 

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now