Twee rye voetspore

November 8, 2018

 

 

Een nag het ek ’n droom gehad.
Ek het gedroom dat ek op die strand loop
en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.
In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien:
myne en die Here Jesus s’n.
Toe die laaste toneel voor my afspeel‚
het ek teruggekyk na die voetspore in die sand
en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.
Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!
Dit het my gehinder en ek het gevra:
“Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe?
Ek kan nie verstaan waarom U‚
in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”
Die Here het geantwoord: “My liewe kind!
Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.
Die tye wat jy net een ry spore gesien het
was die tye toe Ek jou gedra het.”

 

As kind het hierdie gedig my reeds vasgevang.  Dit was vas geplak teen my ouma en oupa se muur. In daardie stadium van my lewe het ek nie regtig besef hoe kragtig hierdie woorde is nie.  Maar ek het 'n pa gehad wat vir ons bid.  My ma sou altyd sê sy sal vir ons veg en my pa sal vir ons bid.

 

Na skool het my beste vriend vir my eendag gesê hy dink ek is God se witbroodjie.  Eers nou besef ek wat hy daarmee bedoel het.  Ek was gelukkig.  Geen tragiese verhale uit my kinderjare nie met 'n ma, pa en familie wat my koester.  Tog glo ek nou dit was oor daar altyd iemand was wat vir my gebid het.  

 

Die laaste paar jaar kan ek baie getuienisse lewer van swaarkry.  Daar was 'n samehang van ongelukke, dood, siektes in ons familie.  Ek was al kwaad vir God.  Ek het met tye my rug op Hom gedraai.  Tog elke keer het ek alleen opgeeindig by Sy voete. Hoekom het jy my verlaat?  Dan kry ek skielik die duidelike antwoord.  Nie die stem wat ons in die bybel van lees nie.  Nie noodwendig 'n duidelike teken nie.  Maar 'n skielike besef....Hy het my nooit verlaat nie.

 

God bring nie altyd die verligting in groot hoeveelhede nie.  Hy is nie die goeie feë wat al die swaarkry skielik laat verdwyn nie.  Maar Hy wys vir jou op klein maniere dat Hy wel nog met ons is.  Elke keer wat ek net wou opgee, het hy my weer hoop gegee.  Elke keer wat my planne op was, het hy met planne vorendag gekom.  Net genoeg om weer aan te gaan vir 'n rukkie.  Net genoeg om my krag te gee.  Hy was daardie tweede ry voetspore in die sand.  

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now