Maak die bagasie ligter

November 8, 2018

 

 

Ek pak graag kaste reg.  Ons spot al daaroor.  Dit is vir my terapeuties en ek voel sommer baie ligter daarna.  Sodra die gejaagdheid van die lewe my versmoor, takel ek 'n kas of twee.  My ander stokperdjie is herwinning.  Ek is mal daaroor om ou meubelstukke nuwe lewe in te blaas.  Baie keer weet ek nog nie wat om daarmee te doen nie, dan gaar ek dit op in die buitekamer tot ek 'n opflikkering kry.  Ek het dit by my ma geleer. Sy het geweet hoe om selfs 'n huurhuis mooi te maak met min.

 

Eendag het my ma dit onder my aandag gebring dat elke keer wat daar iets in my lewe is wat ek nie kan beheer nie, ek dan kaste regpak.  Skielik tref dit my.  Ons almal ervaar angs en sonder dat ons besef, leer ons gewoontes aan om daardie angs te beheer en te hanteer.  Daarom voel ek so vinnig magteloos wanneer my kaste deurmekaar raak en ek nie meer weet waar om iets te vind nie.  Ek het geleer ek kan nie in chaos funksioneer nie en dat ek altyd 'n ding op sy plek moet sit, anders vind ek hom nie weer nie en dit kan ook my angstig maak.  Dit is nou maar my manier om te cope, maar ook het dit my frustreer want ek wou so graag die punt bereik waar ek nie meer gereeld hoef reg te pak nie.

 

Ek kom af op Bea Johnson se boek Zero Waste living: The Ultimate Guide to Simplifying your life.  Daarin vertel sy hoe hulle vir 'n paar maande in 'n woonstel moes woon terwyl hul huis gebou word en die meeste van hul besittings was toe gestoor.  Dit was toe dat sy besef het hulle het hopeloos te veel "goed".  My oë het oopgegaan.  Ek het besef die rede waarom ek gedurig moet regpak en skoonmaak, is omdat ek hopeloos te veel "goed" het.  

 

 

1.  Die eerste stap.  Ek het begin leegmaak.  Laat ek byvoeg, hierdie is nie 'n maklike taak nie.  Selfs nie vir iemand soos ek wat graag weggooi- en weggee nie.  Dit is ook nie 'n kortstondige  taak nie.  Dit vat 'n paar maande of selfs 'n paar jaar, afhangend van hoeveel jy al opgegaar het.  Ek sou nie sê ek is alreeds daar waar ek graag sou wou wees nie.  Ek kan nog heelwat verbeter, maar ek pak heelwat minder kaste reg omdat ek soveel minder het om reg te pak.  Ek het bokse gekry by ons plaaslike winkels.  Daarop het ek gemerk: "weggee", "verkoop", "miskien", "herwin". 

 

Ek het elke vertrek op sy eie gedoen.  Soms sou een vertrek weke neem voor ek met hom klaar is.  Elke item is geanaliseer: Hou ek van hierdie item? Hoekom hou ek van hom? Is hy in gebruik?  Ek is nie 'n sentimentele persoon nie en sit gelukkig nie met baie oorerflike meubelstukke nie.  Die familie items wat ek wel het, is almal in gebruik en die wat net stof opgaar het ek solank in die buitekamer gaan berg tot ek behoorlik seker is oor die saak.  As ek dit nie behou het nie, het ek dit aan 'n mede-familielid geskenk of verkoop wat dalk meer waarde heg daaraan.  

 

 

2.  Items wat herwin word, word eenkant gesit.  Ek blaai deur tydskrifte of kyk op Pinterest vir oulike idees hoe ek die item kan hergebruik.  As ek nog onseker is, berg ek dit eers almal bymekaar tot die regte idee na vore kom.  Dit is so vervullend om te weet daar is 'n dekor element in jou huis wat herwin is.  Veral as jy dit self gedoen het.  Items wat maklik is om te herwin is ou spieëls, ou rame, tafels, stoele, draadelemente soos ou hekke, potte, lappe, boekrakke, ens.  Moenie onnodig opgaar nie, as jy weet jy gaan dit nie benut nie, gee dit eerder aan 'n kunsinnige vriendin of wie okal so iets sal waardeer.  Ek is mal daaroor om te sien hoe die plaaswerkers die items herwin: baddens word blombakke, wielbande word blombeddings, ens.  Ek lewer ook stukkies lap graag af by tannies wat graag naaldwerk doen vir markies of ou wol by die ouetehuis vir die wat met 'n pensioen moet brei.  Dink wie sal so iets waardeer asof dit nuut gekoop is en ervaar die lekkerte van gee.  

 

3.  Dink voor jy koop.  Vir elke 1 nuwe item wat jy koop, behoort jy 2 weg te gee.  Hierdie sal jou twee keer laat dink voor jy koop.  Ek hou ook van mooigoed, maar het jy dit altyd regtig nodig? Voor jy nog 'n kaasbord koop, vra jouself af of jy die ander 5 in jou kas gebruik?  Gaan vir die reël minder is meer en kies kwaliteit bo kwantiteit.  Nuwe mooi goedjies is lekker, ek weet.  Maar soms kan jy jou geld eerder spaar om jou badkamer te restoureer of 'n nuwe meubelstuk wat groter verandering sal bring. Koop ook items wat meerdoelig is.  Dus sal jy altyd nut vir hom hê.  As jy eers die kopskuif gemaak het, sal jy nie sommer weer kan opgaar nie.  Ek gebruik nie graag die woord minimalisties nie, eerder simplisties.  Dit is baie bevrydend.

 

 

4.  Hoe handhaaf jy die orde?  Twee wenke wat vir my werk is om eerstens in elke kamer/vertrek 'n versteekte boks, mooi leë lap winkelsak of 'n mandjie te hê.  Soos ek in my huis leef en op items afkom wat nie in gebruik is of net stof opgaar, gooi ek dit daarin en wanneer dit vol is, gee ek dit weg.  Speelgoed waarmee daar nie gespeel word, klere wat te klein is, ou linne, ens.  Dan sorg ek ook ek skep orde eenkeer elke maand.  Elke Vrydagoggend of wanneer ek die kans kry, stap ek deur my huis en versamel al die goed wat nie op hulle plekke is nie.  Soms kom ek af op items wat ek weet elke week onnodig rond lê en raak ek summier daarvan ontslae.  Snaaks, niemand mis dit nie.

 

Dit is tydrowend aan die begin, maar vervullend aan die einde.  Soms is jy spyt oor iets wat jy van ontslae geraak het, maar die gemis is gewoonlik nie groot nie.  Ek besef daar is nog heelwat waarvan ek ontslae kan raak, maar dit sal ook uitfaseer met tyd.  Ek glo regtig opgaar is uitputtend.  Dit is nog iets wat onderhou moet word en jou van tyd besteel wat jy andersins beter kon spandeer.  Skud af die laste en geniet die lewe op 'n ligter noot!

 

Wenke of idees:

 

*  Skenk ou kinderboeke of leesboeke aan 'n plaaslike biblioteek

*  Oortollige gom, kraletjies, papier, ens. word graag benut deur kleuterskole of voorskoolse kunsjuffrouens

*  Foelie bakke of papier vleisbakke is goudwerd vir kunstenaars om hulle verf in te meng.

*  Skenk leë boksies aan kunsklasse- of skole.  Dit kan selfs geverf of geplak word en gebruik word om items in te berg.  Bv. jou kinders se skoolkuns prente.

*  Knip ou handoeke op en gebruik as afdrooglappe of waslappe.

*  Skenk ou linne aan ACVV, ouetehuise of ander behoeftige organisasies.

* Ou matrasse of beddens word baie waardeer deur een wie se huis onlangs afgebrand het.

* Skenk ou tydskrifte aan skole, haarsalonne, spreekkamers van dokters of gebruik die blaaie om geskenke mee toe te draai of kaartjies te maak.

*  Oortollige servette is handig om toebroodjies toe te draai, te decoupage of in kosblikke te pak.

*  Leë glasfesse kan hergebruik word vir die berging van rys, meel, suiker of gedroogde kruie.  Gooi lekkers daarin, koekmengsel of tuisgemaakte konfyt en gee dit as geskenk.

*  As jy nie jou kinders se kunsprente gaan raam nie, neem 'n foto van elkeen en sit dit in 'n album voor jy die oorspronklike een weggooi.  Of sit die fotos op 'n cd/stiffie.  Dit gaar minder stof op en neem minder plek.  

*  Probeer soveel as moontlik van jou rekeninge per epos kry.  Liaseer dit dan eerder op jou rekenaar.  Kry 'n liaseerkabinet.  Dit neem minder spasie op as leêrs.

*  Gooi gereeld speelgoed uit en skenk dit aan hospitale, behoeftige skole of kinderhuise.

* Verf ou blikke of plastiek blompotte en plant kruie daarin. Hartseer oor daai gekraakte teekoppie? Plant 'n plantjie in hom en plaas dit op jou vensterbank.

* Koop meerdoelige items of produkte.  Baie natuurlike medisynes help vir verskillende kwale.  Asyn kan vir baie verskillende skoonmaak doeleindes gebruik word.  Koop natuurlike seep wat almal mag gebruik. Dus word minder kas spasie toegestaan.

 

 

Gaan kyk gerus vir oulike idees op  https://za.pinterest.com/plattelandsehart/herwin.

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now