Wat ek in Tuscany geleer het

October 14, 2018

 

Dit was so tussendeur die tennisbane, ballet en skool aktiwiteite wat ek die boodskap van my vriendin kry.  Linda Kriel reël 'n vakansie in Tuscany, Italië.  Die foto's lyk belowend. Ek is moeg en uitgeput. Ek benodig 'n breuk van die gewone roetine van kosblikke pak en huiswerk doen.  Ek sê ja.

 

Ons betaal die deposito en so is ons vakansie vir 2018 geboek.  Deur die loop van tyd organiseer ons die vlugte, die ekstra dae wat ons nog in Italië wil toer en wat ons gaan inpak.  Baie keer wonder ons of dit  wys was om vir so lank die kinders en mans te verlaat.  Sal die kinders cope? Sal die pa's cope? Sal die oumas cope?  Daar word lysies gemaak, die koskaste word gevul sodat niemand hoef te sukkel nie, die kinders se weeklikse roosters word uitgetik, onderwysers word ingelig en noodnommers word uitgedeel.  Spanning en opgewondenheid bou op tot die dag wat ons op die vliegtuig klim.

 

Ons eerste groot opwinding was natuurlik om 'n fliek te kyk.  Vir 'n slag is ek in beheer van die afstandbeheerder.  Ek kyk 3 flieks met die eerste vlug.  Definitief 'n rekord vir my.  Die lugwaardin kom vra my wat ek wil eet en wat ek wil drink.  Dit voel alreeds soos 'n vakansieoord.  

 

Na drie opwindende dae in Rome, skuif ons aan na die groep in Siena.  Die drie van ons is laat en kom die vertrek ingestap met 22 vrouens wat ons alreeds sittend groet.  Ons moet opstaan voor almal en deel wie ons is.  Die onsekerheid wemel in my.  Wat het my besiel om 'n week met klomp vreemde vrouens te deel?  Ek besef skielik hoe lank ek in my gemaksone was.  Wanneer ek 'n vertrek instap is daar of bekendes of my man is aan my sy.  Ek het gedink ek is 'n onafhanklike vrou en tog het ek hierdie onsekerheid in my wat ek moet trotseer.  

 

Die volgende dag pak ons die staptog aan.  Dit is duidelik wie is die fikser klomp en wie nie.  Ek besluit nog waar ek wil inpas, maar sien gou daar word nie gekompeteer nie.  Elkeen stap die pas waarmee hul gemaklik voel.  Daar was paar uitdagende steil hellings gewees.  Soms meer sielkundig as fisies.  Mandy was die oudste daar en was vir my 'n absolute voorbeeld van ouderdom is in jou kop.  Sy het nooit opgegee nie en ook nooit gekla nie. Ek het baie keer vir myself gesê as sy dit kan doen, dan kan ek ook.

 

Soos ons gestap het leer ek elke vrou een vir een ken.  Deur die loop van die week leer ek van elkeen se stukkie swaarkry en elkeen se stille stryd.  Ek besef agter elke mooi gesiggie is daar 'n donker gat van bekommernis, moedeloosheid, moegheid en 'n verlede van teleurstellings asook seerkry.  Tussendeur die ernstige gesprekke, lag ons ook baie saam.  

 

Linda leer vir ons oefeninge en ek kry weer 'n nuwe liefde vir oefen.  Al die honderde fiksheidspraatjies op sosiale media het my in die verlede verwar.  Linda se oefeninge is prakties en kan in jou daaglikse leefstyl geimpliseer word.  Haar passie vir oefen gee vir my weer nuwe inspirasie.  Die kos in Italië is fantasties, tog eintlik so eenvoudig.  Die bestandele is min en oningewikkeld.  Tog werk die smaak kombinasies perfek saam.  Linda het elke ete saam met ons geniet en ons laat besef dat met balans kan jy ook die lekker dingetjies in die lewe waardeer - soos lekker kos en wyn.

 

Die Italianers se liefde vir kuns, kos, wyn en samesyn is aansteeklik.  Veral hul liefde vir hul families en hoe belangrik familetyd is.  Hulle werk hard, maar speel ook hard.  Ek het besef hoe ons hier in Suid-Afrika so taakgerig geraak het.  Met die dat so baie se families oorsee sit, het ons mekaar begin miskyk.  As kind onthou ek die tye saam met vriende en familie as die gelukkigste tye van my lewe.  Ons maak dit vir onsself ingewikkeld met patroonbedrukte tafeldoeke, kristalglase en Sarie-kos disse.  Tog is die lekkerste kuiers daardie onbeplande kuiers op die stoep om 'n ou houttafel met uitgepakte kase, kouevleise, vrugte en brode.  Ons moet dit meer doen.  Meer stilstaan en gesels.  Meer saamkuier met ons kinders wat om ons speel.  Meer tyd maak vir mekaar.

 

Na 'n week saam met die dames was ek skoon hartseer om te groet.  Elke vrou het so diep in my hart gekruip.  Gianni en Sera het ons die hart van Tuscany gewys en ons so tuis laat voel.  Die werklike uitdaging is nou om terug te keer huis toe en die la Dolce Vita in ons daaglikse lewens te laat voortgaan.  Dit is waar ek weer besluit het om die beste EK te wees wat ek kan wees.  Om meer tyd vir myself te eien.  Om na my gesondheid om te sien.  Om my drome verder na te jaag.  Tog ook om rustiger te raak en die goeie oomblikke van die lewe ten volle te geniet.  Om meer saam om 'n tafel te kuier.  Om meer te lag. Om die mooi van die lewe te waardeer.  Om die lewe te geniet!

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now