Bêre daai skoolverslag

October 6, 2018

 

 

Dit is weer sulke tyd.  Die kwartaalikse skoolverslag word aan jou oorhandig in sy bruin koevertjie. 'n Dik pak kolomme wat aandui waarin jou kind uitblink en wat nog aandag kort.  Wanneer jy 'n kind het wat net A's verwerf, is dit gewoonlik baie lekker om daai verslag te lees. Die A's pronk in elke kolom, juffrou is mal oor jou kind en almal is trots. Ek weet. Ek het so 'n kind.

 

Dan maak ek my ander kind se verslag oop. Sy kyk vir my met afwagting net om te hoor: "Mamma is trots op jou!"  My moederhart is heimlik bekommerd.  R staan vir "redelik" en BH vir "benodig hulp".  So tussendeur steek G vir "goed" uit.  Dan moet ek myself weer herinner om na die verslag te kyk met ander oë as die wêreld.  My kind het Aspergers.  Natuurlik gaan sy nie so sosiaal wees nie, sukkel met deel, sukkel met uitvoer van opdragte en ouditiewe geheue.  Sy gaan heel waarskynlik nooit mooi skryf nie, altyd moeilik aanpas en sukkel met konsentreer.  Alles eienskappe wat ek as vanselfsprekend aanvaar het met my oudste.  Daardie onderwyseres is forseer om my kind teen die onderwysdepartement se standaarde te meet, terwyl ek raaksien dat sy nou al die klimraam kan bemeester na drie jaar van arbeidsterapie, dat sy woorde hoegenaamd sinne kan praat na 'n jaar van spraakterapie, dat sy bereid is om deel te neem aan klasbesprekings terwyl sy op 'n stadium glad nie skool toe wou gaan nie.

 

Wanneer jou kind gediagnoseer is, gebruik jy as ouer nie die diagnose as 'n verskoning nie.  Dit gee jou net nuwe perspektief.  Die hoofstroom en die wêreld se maatstaf gaan haar nog baie soos 'n mislukking laat voel.  Dit gaan ons, haar ouers, wees wat haar selfvertroue-beker gaan moet vol hou.  Wat vir haar die ongemaklike dinge in die lewe gaan moet laat doen juis dat sy nuwe vaardighede kan aanleer al is sy nie altyd so goed daarin nie.  Wat haar sal moet prys wanneer ander dit nie doen nie.  Wat haar sterk eienskappe sal moet help ontwikkel.  Wat haar bewus maak van haar intelligensie wanneer skoolverslae en prestasieaande haar laat twyfel daarin.  

 

Ons as volwassenes val self in daardie strik.  Ons voel ons kinders moet met klomp onderskeidings op hul skoolverslae pronk.  Kinders kan nie meer sport of kunste doen net vir die pret nie.  Daar moet prestasies wees.  Doelwitte gestel word.  Dissipline gehandhaaf word.  Dit is alles goed en daar is hiervoor ook 'n plek.  Tog wanneer jy dink dit definieer jou sukses in die lewe, dit is wanneer dit 'n probleem raak.  

 

Ek het nie 'n probleem met prestasies nie. 'n Ouer mag maar spog.  My een kind pronk ook met onderskeidings. Sy werk baie hard en ek motiveer haar en gee ook erkenning aan haar.  Ek as ma het niks gedoen om dit te verdien nie.  Dit is alles net genade.  Maar ek weet haar sussie werk baie harder as sy net om die basiese goed te kan bemeester.  

 

'n Sielkundige het vir my eendag gesê: "Gaan sit daai skoolverslag in die kluis en kyk eers weer na hom wanneer jou kind 'n volwassene is".  My kind se skoolverslag is nie wat bepaal hoe suksesvol sy in die lewe gaan wees nie. 

 

Hierdie video deur Jay Shetty soms dit so goed op:

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now