Vriendin - Ek is met jou

August 23, 2018

 

 

'n Klompie vriendinne sit bymekaar. Almal deel hul dol week.  Hoe hul programme en roetines verloop, van hul kinders se prestasies, mislukkings asook hul eie uitdagings. Een vriendin vra eerlik: "Gebeur dit nooit dat jul soggens julle kinders verskree nie?" Nee antwoord ons almal verbaas. 

 

Vandag wil ek vir daai vriendin sê jammer.  Ek is skaam om dit te herken, maar ek het gejok. Vir 'n oomblik het ek gedink ek is in beheer.  Vir 'n oomblik het ek probeer voorgee ek kan alles hanteer wat na my kant toe gegooi word.  Vir 'n oomblik het ek gemaak asof ek weet wat ek doen. Vir 'n oomblik het ek vergeet van my dol oggende. Hoe ek al vantevore my kinders by die skool afgelaai het en skuldig voel oor ons so moes jaag.

 

Nou wil ek vir jou sê mede-mamma en vriendin. Die enigste "superwoman" in daai kring daai dag was JY; want kom ek wees nou eerlik: My wiele val ook soms af!  

 

Sekere oggende verloop dinge seepglad en ander oggende bars die bom.  Sommige dae het ek die wêreld se geduld met my kinders en ander dae nie.  Sommige weke sweef ek deur die aktwiteite en soms val ek deur hulle.  Ek faal...sommer baie.  Ek is nie altyd in beheer nie en my kinders is nie altyd perfek nie.  

 

Onder my leerskoene skuil daar 'n paar voete wat 10 pedikuurs agter is. Sommige oggende is my Solomons en Nike oefenbroekie net 'n verskoning om nie te dink wat om aan te trek nie.  Ander dae sukkel ek om uit my pajamas te kom.  Sommige dae leef ek op hoenderborsies en slaai net om 'n sjokolade stilletjies te verslind na een van my kinders se vloermoere.  Sommige dae sit ek gesonde groente en vleis voor vir my kinders en ander dae visvingers en aartappelskyfies.  Sommige aande lees ons bybelstories en ander aande rammel ek die aandroetine af oor ek bloot te uitgeput voel.  Soms gaan ek met 'n bottel water bed toe en ander aande met 'n glas rooiwyn.  Sommige dae sien ek die lig aan die einde van die tonnel en ander dae rus Mount Everest op my skouers.  

 

Ek is nie perfek nie.  Ek is nie in beheer nie.  Agter daai Michael Kors sonbrille skuil moedeloosheid.  Wanneer daai Toyota Fortuner se deure toeslaan ervaar ek een van my kind se daaglikse meltdowns. As ek verby jou drafstap, is dit nie oor ek so vreeslik besig is nie.  Dit is net my poging om al die balle in die lug te hou.  Ek is maar net 'n ma soos jy. Maar net mens.  Ek verskree ook soms my kinders.  Ek verloor dit ook soms.  Ek huil ook soms moedeloos agter 'n toe badkamer deur. Ek voel ook soms soos die slegste ma wat daar is.

 

Ek besef toe weereens hoe belangrik dit is dat ons meermaal die ware EK vir mekaar moet wys.  Nie die eksie-perfeksie-in-beheer-instagram moeder nie, maar die vervalle-platgeslaande-uitgeputte ma.  Die een wat geduld verloor.  Die een wie windverwaaid voel.  Die een wat moedeloos en uitgeput is.  Volgende keer wil ek graag aan my eerlike vriendin sê: Ek verstaan. Ek weet hoe jy voel.  Ek is met jou! 

 

 

 

 

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now