My Raaiselkind

August 1, 2018

 

 

 

'n Paar weke gelede het ek uiteindelik die fliek gebaseer op Annelie Botes se Raaiselkind getrotseer. Ek het geweet ek gaan vir hierdie een 'n boks tissues benodig.  Kort voor lank het die trane gerol.  Die ma se stille stryd is wat vir my die meeste geraak het.  Haar oë het geskree om hulp.  Sy het nie die liefde en ondersteuning gekry wat so 'n moeder behoort te kry nie.  

 

My verhaal is nie heeltemal so tragies soos Raaiselkind nie.  Tog kan ek my vereenselwig.  Daar is 'n stadium van my kind se lewe wat vir my voel soos 'n vaal kol in my verlede.  Ek kan niks rondom haar ontwikkeling onthou nie.  Die eerste  2 jaar was net oorlewing.  Ek was meeste van die tyd fisies en emosioneel uitgeput. As iemand my sou vra waarom, kon ek nie regtig dit verwoord nie.  Sy het net my energie getap.  My kind was nooit gelukkig nie en wanneer sy wel was, was dit van korte duur. 

 

Toe kom die mylpale. Hoekom kruip sy nog nie? Hoekom loop sy nog nie? Hoekom praat sy nog nie? Vergelykings is getref en haar agterstand is vir my subtiel uitgewys.  Ek moes hoor hoeveel woorde ander dogtertjies al kon praat.  Hoeveel tree ander al kon gee.  Tot by watter getal hulle al kon tel.  Hoe goed hulle 'n bal kan vang en gooi. Terwyl ek tog te dankbaar was as my kind net gelukkig was, want alles het haar frustreer.

 

Partytjies was nie vir ons lekker nie.  My kind was die een wat altyd gehuil het. Sy wou daar wees, maar eintlik wou sy nie daar wees nie. Uitbarstings was volop.  Ek het samesyn probeer vermy, maar dit was moeilik met twee ander sosiale vlindertjies.  Kinderoppassers was skaars.  Almal was gewillig om na die ander twee te kyk maar het gehuiwer as dit by haar kom.  Skool was nooit vir haar lekker nie.  As sy kon kies sou sy by die huis wou bly.  'n TV skerm of tablet het haar gelok soos aas.  Soms was dit al wat gehelp het ten spyte van ander se kritiese gluur.  Sy het alles gebreek.  Elke moontlike kas uitgepak (of uitgesmyt). Eet was morsig. Maniere het nie so maklik ingesink nie.  Alles was net moeiliker. Wat vir my ander twee vanselfsprekend was, was vir haar moeilik.  Kleinboet sou sekere dinge nog voor haar bemeester.  Sy was gefrustreerd en erg ongelukkig en ek het geweet ek sal dadelik antwoorde moet kry...

 

Die eerste twee jaar was ek by twee verskillende pediaters. Dit is net refluks of koliek sê hulle. Soms was daar nie 'n verklaarbare antwoord nie en is 'n stropie in my hand gestop. 

Op drie gaan sien ons 'n spraakterapeut.  Sy sê dit is nie Dispraksie (of Apraksie) soos ons vermoed nie.  Ons laat haar gehoor toets by 'n oudioloog.  Sy land by 'n skooltjie van 5 kindertjies met Engele wat haar help om 'n gelukkiger dogtertjie te wees. Sy kry arbeidsterapie om die maag- en rompspiere te ontwikkel en vir die sensoriese integrasie. Dit help.  Intussen ontwikkel sy nog fisiese siektes ook en gaan ons deur Pediaters, Uroloë, GP's en Oor-neus-en-keel-spesialiste soos soetgoed.  Die fisiese probleme is opgelos.  Ons gaan sien 'n Kliniese Sielkundige. Ons gaan sien 'n Pediatriese Neuroloog.  Almal sê iets, maar die oplossings is nie daar nie.  Ons hoor sy is ADHD. Ons gee medikasie uit desperaatheid.  Sy kry hallusinasies en die uitbarstings vererger.  Ons slaap nie en paar duisende rande later sit ons nogsteeds met vrae.

 

Ek word wakker moedeloos en bid. Sommer so 'n uit-die-venster-staar-hulpkreet-gebed.  Die Neurocentre se naam word vir my gegee. Na vele toetse is my Raaiselkind met Aspergers gediagnoseer. Aspergers en Outisme loop hand aan hand.  Eintlik is Aspergers net die naam vir hoogs-funksionerende-Outisme.  Dit beteken sy gaan heel moontlik in die skoolstelsel kan funksioneer, maar met hulpondersteuning.  Dit beteken sy is okay, maar ook nie okay nie. Dit beteken sy is effens normaal, maar ook nie normaal nie. Wat is normaal wonder ek? 

 

Na 'n paar dae van verwerking rol die trane. Hoe gaan ek haar help? Hoe gaan ek my kind aanvaarbaar vir die wêreld maak? Ek is bang. Bang haar hart en menswees word verniel deur oningeligte onderwysers. Bang sy raak weg in die skolestelsel.  Bang haar intelligensie en gawes word nie raakgesien nie. 

 

Ek besef dat Aspergers nie 'n gestremdheid is nie. Met die regte ondersteuning kan jou kind baie gelukkig wees. Ek besef dat al is daar nou 'n naam gekoppel aan my raaiselkind, sy nogsteeds dieselfde dogtertjie is as die laaste 6 jaar.  Ek stap die aand haar kamer in om haar bedliggie af te skakel.  Ek kyk na die lyfie wat sag en onbewus slaap.  Volgens haar is sy reg en die wêreld verkeerd en hoekom nie? Hierdie komplekse breintjie is deur God geskape. Hoe kan dit dan so verkeerd wees? Ek besef saam met al die nuwe takies wat sy moet bemeester, ek ook vir haar moet bid. Die sielkundige sê ons verander nie die kind, ons verander die omgewing.  Volwassenes wil mos pal die kinders fix.

 

Na baie mismoedigheid word ek die oggend weer wakker. My raaiselkind druk my styf vas. Sy borrel. Sy hardloop by die agterdeur uit met haar tassie op wielietjies wat oor die sementblad skreeu.  Die gesiggie opgehelder en lus vir die dag. Vanoggend was weer 'n goeie oggend en skielik weet ek my Raaiselkind gaan okey wees. Sy gaan die wêreld nog 'n ding of twee leer. Al ervaar ek baie teenkanting sal ek intussen haar beskermer wees.  Ek sal die stryd vir haar voer. Ek sal dit vat. Tot die dag wat sy kan sê: "Ek het Aspergers. Ek dink anders. Ek voel anders. Ek reageer anders. Ek is okay!"

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now