Hoekom ek al tuisonderrig oorweeg het

July 19, 2018

 

 

Ons het die voorreg gehad om een Junie vakansie in die Karoo tyd te spandeer.  Vir twee nagte het ons vertoef by 'n gasteplaas met 'n pragtige gesin van 4 seuntjies. Soggens vroeg wanneer die koue nog erg knyp het ek die stemmetjies gehoor hoe hulle kaalvoet oor die werf stap na 'n klein geboutjie wat hulle "skool" noem.  Middae het hulle buite rondgehardloop, gelag en gespeel.  Hulle was nie skaam of teruggetrokke nie.  Hulle was kinders.  Gelukkige kinders. Hierdie vier seuntjies ontvang tuisonderrig.  

 

Ons woon ook op 'n kommersiële plaas.  My kinders geniet dit ook om buite te speel en te baljaar.  Tog lyk ons oggende aansienlik anders as hulle s'n. Soggens vroeg moet ek opstaan om die skoolbroodjies in te pak en te kyk dat al die sakke gepak is vir die dag.  Vroeg word hulle wakker gemaak, pap word ingewurg nog voordat die oë behoorlik oop is. Klere word aangetrek.  Tande geborsel en hare gekam.  Dit klink eenvoudig, maar met 3 verskillende persoonlikhede verloop dinge nie altyd glad nie. Die dromer vat 30 minute om haar pap op te eet en dan is ons klaar laat. Soms val een by van 'n toets wat geteken moet word.  Boeta van 4 jaar moet ook inspring al begin sy skool eers heelwat later.  Dan pak ons die 45km aan skool toe op die N2.  Aangejaag en soms besig om mekaar te verskree. 

Wintermaande is die pad nog pikdonker.  Die hartjies slaap nog.  Middae hang ons uit onder bome en in parkeer areas.  My kinders het darem 'n ouma op die dorp by wie ons kan afpak, maar baie ander het nie.  Hulle eet middae ook uit kosblikke en by die tyd wat ons die huis weer instap, is daar nie veel tyd vir speel met die hasies en perd nie, want huiswerk wag vir ons.  Dan begin die roetine weer.  Alles om gereed te maak vir die volgende lang dag. 

 

Elke oggend wat ek my kinders aflaai voel ek gejaagd en onsteld.  Is dit alles die moeite werd? Die lewe is so 'n gejaag na skedules, akademie an sukses.  Ek verstaan dat dit is deel van die realiteit, maar moet ons kindertjies dit so jonk al ervaar? Die druk en spanning van die wêreld se vereistes. Pappa jaag. Mamma jaag.  Kinders jaag.  Is alles waarmee ons onsself besig hou regtig belangrik? Dit is hierdie organisasie en daai organisasie. Fondsinsamelings en kompetisies.  Wedstryde en toetse.  Ek gesels onlangs met 'n vriendin wat besluit het om haar kinders te tuisonderrig.  Ek vra haar hoekom? Haar eenvoudige antwoord: "Ons word te veel gedryf deur elemente buite ons huis. Skielik kry ons gesin weer saam om 'n tafel geëet" Ek weet wat sy bedoel met "elemente". Skool, skedules, akademie, sukses, organisasies, fondsinsamelings.

 

Dit laat my toe terugdink aan die kindertjies op die Karoo-plaas.  Hoekom was hulle vir my so opvallend? Want hulle was gelukkig.  Hoekom moet so baie van ons kinders kleintyd al sielkundiges en terapeute gaan sien? Hoekom styg die selfmoordsyfer jaarliks by tieners?  Hoekom vind daar meer en meer geweld by skole plaas?  Hoekom voel sommige kinders nie goed of slim genoeg nie? Hoekom sê my 6 jarige vir my sy is dom? Ons kinders word nie meer toegelaat om kinders te wees nie. Alles is 'n kompetisie. Prestasies neem die oorhand. Die slimkoppe ervaar druk om net nog meer te presteer en die kinders vir wie dit nie moontlik is nie, voel soos 'n mislukking.  Speeltyd raak al hoe minder en word verruil vir buitemuurse aktiwiteite. Almal wil in iets uitblink.  Niemand wil meer "gemiddeld" wees nie.  

 

Tuisonderrig styg jaarliks met 20% in Suid-Afrika.  Business Live skryf dat daar maklik tussen 50,000 tot 100,000 kinders van graad R tot matriek tuisonderrig ontvang.  Hierdie besluit het baie keer te doen met die feit dat klasse te groot raak, druk op skool, boelies, kinders met neurologiese probleme pas moeilik aan en finansies.  Ek kan met eerlikheid sê, as my kinders nie deel van 'n uitstekende skool was met ondersteunende onderwysers nie, sou ek maklik hierdie transformasie gemaak het.  Daar is 'n lang lys van voordele en nadele by beide.  Ek glo dit verskil van persoon tot persoon en elkeen moet 'n besluit maak wat reg is vir jou kind en jul gesin.  Ek sal nie sommer maklik hierdie oorskakeling maak nie, maar ek sal ook nie 'n ouer kritiseer wat dit wel doen nie.

 

Die vraag waarmee ek nou worstel: Hoe gaan die res van ons die balans handhaaf? Wat kan ons in ons skole doen om die druk op kinders minder te maak? Wat gaan ons in ons leefwyse doen sodat ons kinders weer kinders kan wees? My wyse skoonsuster het eendag gesê: "Ek hunker na eenvoud." Dit het by my vasgesteek in alle opsigte. Een van Brene Brown se aanhalings is: "Joy comes to us in ordinary moments.  We risk missing out when we get too busy chasing down the extroadinary." Ons ervaar soveel druk juis oor ons heeltyd strewe daarna om uit te staan. Om gesien te word. Hierdie konsep word op ons kinders ook afgedwing in verskeie opsigte asook onsself.  

 

Kom ons raak weer rustig. Kom ons skaal bietjie meer af.  Kom ons leef meer eenvoudig.  Kom ons maak gelukkige kinders groot.

 

 

Let's raise children who won't have to recover from their childhoods - Palm Leo

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now