Die lewe is nie maklik nie

May 21, 2018

 

As jy nou 'n ma wil boos hê, moet jy met haar kind sukkel.  Dit is soos 'n bul wat rooi sien.  Dit is een van die diepste slaggate waarin 'n onderwyser of mede-ouer kan trap.  Die tierwyfie kom summier in haar uit en dan moet almal net pasop.  Sy sal deur diepe waters en vure hardloop vir haar kind.  Daar is niemand op aarde wat so hard vir jou sal veg soos jou ma nie.  Maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie.  

 

Tog kan ek nie help om te wonder of ons as ouers soms perspektief verloor nie.  Ons wil so graag die lewe gemaklik maak vir ons spruite dat ons vergeet nie elke stryd wat oor hul pad kom, negatief benader hoef te word nie.  MAKLIK stap nie hand aan hand met BRAAF nie.  Elke persoon wat al BRAAF in hulle lewe was, het gewoonlik eers MISLUK.  Jou kind hoef nie elke keer in die eerste span te wees nie, jou kind hoef nie erkenning vir alles te kry nie en jou kind hoef nie altyd gewild te wees nie.  Jou kind mag maar bietjie swaarkry.  Hoekom? Want jy is daar om hom/haar weer te bemagtig.

 

Ek onthou toe my oudste dogtertjie in graad 1 vir hokkie gaan oefen het.  Ek het langs die veld gesit en gekyk hoe hulle oefen.  Ek kon sien in watter areas die ander dogtertjies uitblink.  Ek kon sien wat my kind reg en verkeerd doen. Die briefies is uitgedeel wie die eerste span gemaak het.  Sy was nie in nie.  Ek het nie 'n ophef van dit gemaak nie, want ek het gesien dit traak haar eintlik nie en daar is baie ander wat ook nie die span gehaal het nie.  Sy het wel later bewus geraak dat die ander wedstryde gaan speel en sy nie.  Ek het haar gevra, "Geniet jy hokkie?" Ja antwoord sy my.  "Wil jy aanhou hokkie speel?" Ja antwoord sy my.  Dan oefen ons.  Ek en sy het middae op die plaas balle geslaan.  Die ma weet niks van hokkie nie, maar my "ball sense" is nie te versmaai nie.  Ek het genoeg geleer deur langs die veld te sit en kyk.  Ek het ook geweet sy is nie sleg nie, maar sy moet net die selfvertroue aanleer om te weet sy kan ook goed speel as sy wil.  Eintlik het sy die kwaliteit tyd vreeslik geniet. 

 

Tot sy een middag haar beurt kry.  Sy het haar hart uitgespeel en ek was so trots.  Net daar speel sy haarself in die span in.  Hierdie was 'n les vir my en vir haar.  As jy iets rêrig graag wil hê, werk jy vir dit.  Dit is hoe die wêreld daar buite ook werk.  Dit kon maklik anders ook uitgewerk het, maar dan sou ons dit hanteer het.  Die lewe is vol teleurstellings, maar jy kan besluit wat jy daarmee maak.  Ons as ouers moet dit vir ons kinders ook leer.  

 

Ek onthou toe ek ontdek my dogtertjie van 12 maande het Strabismus (lui ogie) net soos ek gehad het as kind.  Ek het vir 2 dae gehuil.  Ek het geweet dat sy nou bril gaan moet dra en dat kinders wreed is.  Al daai boelie-herinneringe van my kinderjare het my oorweldig.  Ek wou so graag haar daarteen beskerm.  Tot ek besef het dat ek nie vandag sou wees wie ek is as dit nie juis vir my tekortkominge was nie.  Ek moes kleintyd leer om op te staan vir myself.  Ek moes kleintyd leer hoe om boelies te hanteer.  Ek moes leer lief word vir myself.  Deur self geboelie te word, het ek ook geleer om empatie vir ander te hê met verskille.  Ons het haar geneem na die oogspesialis.  Vir haar die mooiste pienk brilletjie uitgekies en ek het besluit as die dag kom wat sy geboeilie word, sal ons dit ook hanteer.  Dit het gekom.  Sy is geboelie.  Dit was nie maklik vir haar nie en ook nie vir my moederhart nie.  Ons het deur dit gewerk deur haar te bemagtig met die regte woorde.  Deur haar uit te wys dat almal anders is.  Deur haar te help verstaan waarom maatjies boelie.  Dat hulle 'n leemte het en dat sy eintlik hulle moet jammer kry.  Glo my, ek het baie dae gevoel ek wil self daai maatjie aan die nek gaan gryp.  Wat sou ek dan my kind in die proses leer?

 

Die boeliery het opgehou die dag toe sy nie meer ontsteld geword het as hulle haar boelie nie. "Mamma, die maatjie het my weer gespot en toe stap ek net aan.  Dit het my nie eers gepla nie".  Sy het haar "gebrek" aanvaar en omhels.  Dit is 'n groot les vir 'n 7 jarige om te leer.  Ek het geweet sy sal nou okay wees.  Dit het baie sielkundige toepassing gekos.  Ons het liedjies gesing oor anders wees en stories gelees.  Ons het dit oorwin.  Vir nou. 

 

'n Paar maande later kom sy na my toe en sê, "Mamma, die maatjies het daai dogtertjie met die af armpie se kosblik omgestamp, toe huil sy en toe help ek haar en sê vir haar sy kan maar met ons kom speel"  Ek wou huil van trots, want ek maak veel eerder 'n kind met empatie groot as 'n kind wat dit altyd net maklik het.

 

Ons wil so graag ons kinders se lewens maklik maak vir hulle.  Plaas ons die struikelblokke wat oor ons kinders se pad kom sien as die boublokke van hulle lewens.  Gesels met jou kind. Bemagtig jou kind.  As jy nie weet hoe nie, gesels met ander mammas en gaan lees op.  Sommige kinders kry baie swaarder as ander.  Die lewe is nie altyd regverdig nie, maar dit is juis daardie swaarkry wat soms jou kind se grootste aanwins gaan wees mits jy dit reg hanteer. Jou kind gaan nog baie teleurstellings moet verwerk, maar dit  is hoekom hy/sy jou as 'n ouer het.  Om hulle te omhels en te verseker hulle het 'n plekkie waar hulle behoort wanneer die lewe se teleurstellings hul onder kry.

 

Ek haal Theodore Rooseveldt se bekende toespraak "The Man in the Arena" aan:

 

"It is not the critic who counts;

not the man who points out how the strong man stumbled,

or where the doer of deeds could have done better.

 

The credit belongs to the man who is actually in the arena;

whose face is marred by dust and sweat and blood; 

who strives valiantly;

who errs and comes short again and again;

who knows the great enthusiasms, the great devotions, and spends himself in a worthy cause;

who at the best knows in the end the triumph of high achievement;

and who at the worst, if he fails while daring greatly;

so that his place shall never be with those cold and timid souls who know neither victory nor defeat"

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now