Daar is 'n tyd om te bid

May 20, 2018

Photo by Ben White on Unsplash

 

 

Daar is 'n speelgrond vol kinders, maar 'n ma sal altyd haar kind se gehuil bo die ander uitken.  'n Ma weet net.  Sy weet as haar kind swaarkry.  Sy weet as iets skort.  Sy sal enigiets vir haar kind doen.  'n Ma is net so gelukkig soos wat haar kind is. 

 

Tog betwyfel ons onsself so maklik deur ander se opinies of verskillende inligting.  Gaan Google vinnig 'n vraag en jy kry derduisende uiteenlopende antwoorde.  Elkeen vertel jou van hulle wonderlike raad of wonderkuur.  Dit is wonderlik om al hierdie inligting beskikbaar te hê, maar 'n reeds onsekere ouer voel baie keer dan net nog meer oorweldig.

 

In my soeke na antwoorde was ek al by talle terapeute en mediese dokters met vrae.  By sommiges het ek antwoorde gekry wat van hulp was.  Ons het tegnieke en terapie beproef.  Selfs medikasie.  My kind is al met ADHD gediagnoseer.  Ek het elke boek of artikel oor ADHD verorber.  Ek glo kennis is mag.  Dus bemagtig ek myself deur soveel as moontlik oor die onderwerp op te lees.  Ek sien talle kenmerke raak en die diagnose maak vir my heeltemal sin, maar daar is iets wat kort.  'n Vermiste legkaartstuk.  Ek vertrou die neuroloog en ons begin om eers Ritalin te beproef.  Ek hou nie van die newe effekte wat my kind affekteer nie en ons probeer daarna weer Ritalin LA 10mg.  Regtig die laagste dosis wat jy kan kry.  Weereens te veel newe effekte soos insomnia en hallusinasies.  Na twee weke van nagte met 'n wakker kind sit, staan ek die oggend 5 uur en staar by my kombuis venster uit terwyl ek die oggend koffie maak.  "Here help my, ek kan nie meer nie",  roep ek om hulp.  Ek besef toe ek kan nie regtig onthou wanneer laas ek Hom om hulp gevra het as dit by hierdie onderwerp kom nie.  Ek het so gewoond geraak daaraan om alleen die stryd te voer.  Ek plaas my hoop in dokters en kundiges, maar vergeet om die Een wat my kind se brein geformuleer het om hulp te vra. 

 

Paar minute later kry ek 'n oproep van 'n ma wat deur my blog van my stryd gehoor het en met my haar stryd wil deel.  Ek verduidelik aan haar my moedeloosheid en sy raai my aan om die Neurodiversity Centre by Franschoek te kontak.  Ek gaan lees dadelik meer op hulle webtuiste en hou van wat ek sien.  Hier sien ek talle dokters en kundiges in die Neurologiese veld almal onder een dak.  Ek kontak hulle dadelik.  Die vriendelike sekretaresse raai my dadelik aan om al my verslae (daar is al 'n taamlike versameling) te epos asook 'n brief in my eie woorde.  Vrydag sal hulle die kliniese vergadering hou en dan besluit by wie ons eerste afspraak gaan wees.  Dit kan so vier maande neem om plek te kry. 

 

Ek kontak my skoonsus. Kwesbaar en moeg.  "Nee", sê sy, "Jy kan nie so lank wag nie.  Ek gaan bid dat jy sommer vinnig 'n afspraak gaan kry". Sy het gebid.  Dit is toe Woensdag.  Daardie Maandag kry ek die oproep, ons het 'n afspraak gekry vir die komende Donderdag.  Presies 'n week na ek hulle gekontak het.  Ek besef toe ek daar instap, dat hierdie 'n bonatuurlike ingryping van God is.  Ek sou nie alleen van hierdie plek te hore gekom het nie en ook nie alleen so maklik plek gekry het nie.  Die sekretaresse is self verbaas toe sy hoor ek het binne 'n week plek gekry.  Daar moes 'n skielike kansellasie plaasgevind het, sê sy.

 

Ek vul my vorms in en hou onmiddelik van die manier hoe die kundiges met die ander pasiënte daar werk.  Ons word ingeroep en vir 50 minute word daar met my en my kind gesels. Ek het oppad na die kliniek toe vir 'n oomblik gedink miskien oordryf ek.  Miskien is daar nie fout met my kind nie.  My kind is vandat sy van die medikasie af is, weer baie beter.  Miskien ervaar ons nou 'n wending.  Maar na 5 minute in 'n vreemde omgewing is sy weer oorgestimuleerd en uit haar vel.  Sy verbaas my met die antwoorde wat sy vir die sielkundige gee, maar ek kan sien haar gedagtes is in flarde en sy sukkel om haar omgewing te prosesseer.  Die sielkundige het dit vinnig opgesom en na die vrae wat gevra is, kan ek agterkom in watter rigting sy dink. 

 

As sy daai dag al 'n diagnose gemaak het, sou ek heel waarskynlik nie weer wou teruggaan nie.  Ek het die feit gerespekteer dat sy 'n diagnose nie ligtelik opneem nie en verkies om nog ekstra sessies in te werk en deeglike toetse te doen voor sy die finale diagnose maak.  Ek het daar uitgestap verlig en hoopvol.  'n Gevoel wat ek vir lank nie gehad het nie.  Dit is die tipe plek met wie ek bereid is om 'n pad te stap.  Dit is 'n plek wat my en my kind kan ondersteun en tegnieke leer om ons lewens makliker te maak en my kind te laat aanpas in die samelewing en skool sisteem.

 

Maklik gaan dit nie wees nie.  Ek weet dit is nog net die begin van 'n nuwe pad wat ons moet stap.  Tog kan ek die lig aan die einde van die tonnel nou al duideliker sien.  Ek weet ook dat ons nog die vrugte gaan werp vir die stryd wat ons nou moet voer.  Ek weet dat my kind is 'n vegtertjie. Dat sy baie talente het om die wêreld te bied.  Ek is ook opgewonde vir die mense wat oor my pad kom in die proses.  Sommer net daar het 'n ma gesit en my nommer gevat om my op hulle ondersteuningsgroepie te plaas.  Elkeen voel alleen tot hulle daaroor begin praat en dan dop die ander moedelose ouers een vir een ook uit.  Talle ma's het my ook al gekontak.  Is dit nie wonderlik hoe God ons in die moeilike tyd ook bemagtig nie? Hierdie Blog is alklaar 'n voorbeeld.

 

Die les wat ek hier geleer het, is om nooit op te hou glo nie.  Om nooit op te hou bid nie.  Hierdie is nie 'n pad wat enigeen alleen hoef te stap nie. Maar ek het ook geleer dat die eerste stap is om te erken jou kind is anders, die tweede stap is om antwoorde te soek, bemagtig jouself met kennis en maak gebruik van die wonderlike terapeute en dokters wat 'n passie vir hierdie kinders het.  Daar is 'n plek vir geloof en daar is 'n plek vir dokters.  God het dit ook vir ons gegee.  Maak gebruik daarvan en vra Hom vir die leiding en krag.

 

Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit.  Hy aanvaar my gebed

Psalms 6:10

 

Toe ek heeltemal uitgeput was, het ek aan die Here gedink, my gebed het opgestyg tot waar U in u blyplek is.

Jona 2:7

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now