ADHD: Van 'n mamma aan ander mammas

May 5, 2018

 

 

Ek kom terug van 'n samesyn met vriendinne,  ontsteld. Trane van hartseer en woede wel op in my oë.  Ek is kwaad vir die ma wat so maklik oordeel asook vir myself. Vir myself oor ek die fout gemaak het om met 'n groep mammas een van my grootste struikelblokke te deel. Ek maak gereeld daai fout oor ek 'n persoon is wat met my hart op my mou loop.  So het ek al talle mammas aangeraak wat heimlik deur dieselfde gaan, maar dan af en toe kry jy DAAI ma.  Die een wat met haar onbeperkte kennis haar opinie lewer.  "Vat dit van wie dit kom", probeer ek myself opbeur.  

 

Sien, daardie dag toe daai ma my met haar skerp woorde bygedam het; was die dag toe ek 'n mede-mamma se bemoedigende en simpatieke woorde nodig gehad.  Ek kom toe van 'n week van hel en min slaap.  Ek stap hierdie pad al 3 jaar.  Eintlik meer.  Alleen besoek ek die een terapeut na die ander.  My liaseerkabinet is oorlaai met duisende rande se mediese rekeninge. Sy is 6 jaar oud en ek was al meer  in die onderwyseres se kantoor as met my 8 jarige kind.  Ek slaap min want my kind sukkel om saans af te skakel en is weer vroeg soggens op want die geringste geluid kan haar wakker maak.  Elke minuut van die dag is 'n stryd.  Of ons nou oppad is skool toe, of middagete moet eet, of bad, of  gaan slaap.  So lief soos wat ek vir my kind is met haar sterk wil, so moeg maak sy my.  Nie net het sy 'n sterk wil nie, maar ook ADHD. 

 

Ons beproef nou medikasie en dit is hier waar ma's hulle skerp tonge slyp.  As hulle maar net geweet het dat ek ook op 'n tyd een van hulle was. "My kind sal nooit op medikasie gaan nie", het ek maklik gesê of "Hy is 'n Ritalin geval", met 'n stemtoon van hy kort eintlik net 'n goeie pakslae.  Vandag is ek skaam oor my onkunde van destyds en heimlik dankbaar vir die struikelblokke met my kind.  Ek is 'n beter ma vandat ek die volgende geleer het:

 

1.  Ek is meer nederig.  As ek net my oudste en jongste kinders gehad het, was ek vandag 'n hoogmoedige ma wat gedink het hulle is so oulik as gevolg van my.  Die pad wat ek sover met my ADHD kind gestap het, het my nederig gemaak.  ADHD kinders kan die oulikste ouers na die slegste ouers laat lyk.  Ek kan nou empatie toon wanneer 'n ander ma deur dieselfde gaan. Soms het 'n ma-vriendin net 'n simpatieke oor nodig of 'n knipoog van ek verstaan.

"You never really understand a person until you consider things from his point of view - until you climb into his skin and walk around in it" - To kill a Mockingbird

 

2.  Ek is meer ingelig.  Ek lees meer op oor die onderwerp. Nie artikels wat bestaan uit ander se opinies nie, maar harde feite.  Dr Christopher Green en Dr Kit Chee, "Understanding ADHD" het my lewe verander.   In sy boek verduidelik hy strategieë, metodes van dissipline asook al die bekomernisse rondom medikasie.  Hy ondersteun terapie, maar glo dat terapie en medikasie hand-aan-hand moet gaan.  Ek stem saam dat te veel ouers medikasie as die enigste oplossing beskou.  Ek verstaan dat te veel onderwysers te maklik vir 'n ouer aanbeveel om hul kind op medikasie te sit. Daarom glo ek jy behoort eers 'n goeie Opvoedkundige Sielkundige, Arbeidsterapeut asook Pediatriese Neuroloog te raadpleeg voor jy ooit so 'n besluit neem.  Medikasie behoort die laaste opsie te wees.  In my geval was dit. Ek het gevrees my kind gaan haar brein uitbrand en ek het geweet ek sal iets moet doen.

 

3.  Elke kind wat konsentrasie probleme het, het nie noodwendig ADHD nie. My kind het nie net konsentrasie probleme nie. Daar is baie meer kenmerke van ADHD waarvan ouers nie weet wat nie self elke dag die pad stap nie.  Toe ek meer begin oplees oor ADHD het ek eers besef hoe oningelig ek was.  Daar is baie kenmerke van ADHD wat in baie ander nie-ADHD kinders ook sigbaar is, maar dit beteken nie noodwendig daai kind is ADHD nie.  Ek haal 'n gedeelte aan: "Reality before Science.  For a child to have ADHD, by the DSM-IV criteria, they need to show six out of a list of nine behaviours.  If they demonstrate six or more, it is ADHD, five or less and the diagnosis is in dispute.  This seems so clear-cut, but it is not.  The child with four or five difficult behaviours may not fit the full criteria, but can still cause immense stress.  The child with six behaviours may not come for treatment if the parents are saints and the school superb.  A child from dysfunctional home and unsupportive school may only have five features and receive treatment"  

 

4.  ADHD is nie 'n geneesbare siekte nie.  Dit is 'n chemiese wanbalans in die brein.  Inligting skiet deur die brein sonder dat dit filtreer word.  My kind het 'n fantastiese langtermyn geheue, maar sukkel met die korttermyn memorisering.  Daarom is visuele leertegnieke baie meer effektief vir haar.  ADHD is ook gewoonlik geneties.  Daar is gewoonlik nog gevalle in die familie.  Die kanse is baie keer goed dat sommige ADHD kinders depressie kan ontwikkel as dit nie behandel word nie oor hulle soos 'n mislukking voel.  Hulle sukkel om take te voltooi, is vergeetagtig en hulle brein lyk soos 'n rekenaarskerm met tientalle tabs wat oopgemaak is.  Sommige ADHD kinders leer later van tyd sonder medikasie klaarkom en sommiges nie.  ADHD beteken nie noodwendig jou kind het leerprobleme nie, maar dit kan gepaard gaan met ADHD.

 

5.  ADHD kan baie alleen wees.  Meestal oor mense so oningelig is oor die saak.  Nie net vir die kind nie maar ook vir die ouers.  As 'n ADHD individu gaan dit jou lewe lank voel mense verstaan jou nie.    

"With ADHD even the most knowledgeable, best-balanced parent will secretly believe that they are in some way to blame....  Then there are those interfering friends who question the diagnosis and tell the parents that the treatment is not safe.  It upsets us to see good mums and dads blame themselves.  We know these children are difficult, and would be many times worse if it weren't for these exceptional parents" 

As 'n ouer van 'n ADHD kind gaan jy deur jou kind se skooljare besig om aan ander ouers en onderwysers te verduidelik waarom jou kind so optree en waarom jy sekere dinge op sekere maniere doen.  Dit behoort nie so te wees nie.  

 

6. ADHD of persoonlikheid.  Ongeag of my kind ADHD het, is sy ook 'n individu met 'n unieke persoonlikheid.  Nie alle kenmerke is verwant aan ADHD.  Ek moet so versigtig wees om haar nie te brandmerk nie.  Die prognose maak dat ek sekere dinge wat sy doen beter verstaan.  Sekere dinge gaan ek nooit uit haar gestraf kry nie, maar ek kan wel grense stel en probeer sonder dat dit stres op ons verhouding plaas. 

 

Hierdie kind van my is moeilik en ook het sy die beste sin vir humor.  Elke keer wanneer die emosie haar oorweldig het, sal sy toenadering soek en haar lyfie styf teen my druk.  Soveel van te sê: "Mamma ek weet nie hoekom dit nou gebeur het nie".  Dit is dan wanneer ek dit weereens besef dat ek is haar ma.  Die persoon wat haar die beste ken en wat die beste vir haar wil hê.  Niemand gaan haar ooit so lief hê soos ek nie.  My opinie is veronderstel om die enigste opinie te wees en dit is al wat saakmaak.  

 

NB:  Intussen wil ek wel 'n klompie ondersteuners dank.  Dit is die vriendinne, familie, dokters, terapeute en mede ADHD mammas  wat my deur die jare gedra het.  As gevolg van my kind se terapie het ek soveel hartsvriendinne gemaak.  Julle weet wie julle is:

 

Let me hold the door for you.  I may have never walked a mile in your shoes,  But I can see that your soles are worn and your strength is torn under the weight of a story I have never lived before.  So let me hold the door for you.  After all you've walked through, it's the least I can do" - Morgan Harper Nichols

 

(Hierdie is die opinie en ervaringe van 'n mamma.  Inligting is gebaseer uit Dr Christoper Green en Dr Kit Chee, "Understanding ADHD: Parent's Guide to Attention Deficit Disorder" en oorgedra soos dit verstaan is.)

 

 

Te koop by die volgende: Penguin Books

 

Laai hom af op Google Play Books 

Amazon.com

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now