Wenke vir aanlyn koop

May 1, 2017

Een van die eerste wenke wat ek vir 'n nuwe plattelandse vrou kan gee is om te leer om aanlyn te koop.  Ons almal soek soms inkopieterapie of het 'n behoefte vir nuwe items in jou huis of kas.  Daar is geen rede hoekom jy nie ook op hoogte kan bly met modes of nuwe produkte op die mark nie.

Baie vrouens is bang en versigtig vir die internet. Ek het self al 'n bloutjie of twee geloop. Tog is daar talle veilige webtuistes waar jy nie sommer verkeerd kan gaan nie. Daar is wel 'n paar dinge wat jy ingedagte moet hou wanneer jy aanlyn koop wat ek graag sal wil deel.

 

Sekuriteit:

 

1.  Maak seker jy het 'n betroubare 'firewall' op jou rekenaar wat onbetroubare bronne weg hou. Elke rekenaar behoort een op te hê.  Veral as jy gereeld op jou bank gaan met hom.  Ek is nie 'n rekenaar kenner nie, so ek kan nie regtig veel meer hieroor sê nie. Raadpleeg jou plaaslike rekenaarwinkel vir meer raad hieroor. 

2.  Ek koop gewoonlik met my kredietkaart oor dit vinniger en makliker is, maar as jy versigtig is maak gebruik van die elektroniese betaalmetode. Hou net ingedagte dat dit baie keer bietjie langer vat om te verwerk as gevolg van die verloop van tyd tussen verskillende banke.  Kyk ook altyd of die aanlynwinkel dalk bankbesonderhede het vir 'n bank wat ooreenstem met jou bank.  Ook het baie aanlynwinkels 'n rekening by bv. Authorize.net, Google Wallet, Paypal, Wepay. (Die webtuiste sal aandui indien hulle met so 'n sisteem werk) 

3.  Ken altyd jou wagwoord en moet nooit in 'n publieke plek wat WIFI deel, inteken op jou bank of jou kaartbesonderhede invul nie.  Maak seker jy teken altyd uit, want jou kaartbesonderhede word baie keer gestoor op jou profiel. Dit is geriefliker vir wanneer jy in die toekoms weer by hulle wil aankoop.

 

Die voordele van aanlynkopies:

 

1.  Jy kan in die gemak van jou huis of kantoor koop.

2.  Jy kan jou tyd vat met besluite neem.

3.  Jy kan soek of wag vir beter pryse of promosies.

4.  Dit word by jou voordeur afgelewer.

5.  Wat is nou lekkerder as om 'n pakkie in die pos te kry!

 

Nou kom die lekker deel:

 

1.  Ken jou webtuistes. Byna elke winkel het deesdae 'n aanlynwinkel. Daar is talle bekende aanlynwinkels op die web  -  van meubels tot klere. As jy onseker is oor die winkel se diens, gaan lees hulle reëls en voorwaardes asook resensies op die internet. As die internet oorloop van slegte ervaringe van ander kliënte, bly eerder weg. Veral as die meeste klagtes gaan oor swak diens, items wat nie opdaag nie of geld wat nie terugbetaal word nie. Lees ook mooi of hulle terugbetaling van items waarborg.  As jy nie tevrede is met diens of die produk nie kan jy self gaan kla op www.hellopeter.com 

 

2.  Koste van vervoer en aflewering. Hou in gedagte.  Meeste winkels gee verniet aflewering mits jy bo 'n sekere bedrag koop. Hierdie bedrag is gewoonlik haalbaar. Jy kan ook saam met 'n vriendin bestel om die bedrag te bereik of om vervoerkoste te deel.  Maak seker jy betaal nie andersins te veel vir die produk nie. Lees ook mooi wat hul vervoerkoste is vir buite-stedelike gebiede.  Deesdae is daar ook baie internasionale webtuistes wat in Suid-Afrika aflewer.  Hou net ingedagte, wanneer jy items van die buiteland af bestel kom daar nog VAT en invoerkoste ook by wat die item se prys kan verdubbel. 

 

3.  Adres. Meeste aanlynwinkels vereis fisiese adresse vir koerierdienste, maar maak ook gebruik van posbus adresse.  As jy op 'n plaas of in die berge bly waar daar nie sommer fisies pakkies afgelewer kan word nie, kry vir jou 'n adres in die dorp by 'n besigheid/woning van 'n vriendin/kennis waar dit wel afgelewer kan word.

Etiket rondom dit is as volg: Maak eers doodseker met die persoon of hulle pakkies sal verwelkom. Lig hulle altyd vooraf in dat daar 'n pakkie afgelewer gaan word (meeste koeriers stuur 'n boodskap vooraf per sms/epos). Vermy maar te groot pakkies soos groot meubelstukke.  Indien wel, maak seker jou bakkie is al by haar voordeur wanneer dit afgelewer word.  Gee af en toe vir haar 'n geskenkie uit dankbaarheid.

 

3.  Ken jou pryse. As jy aanlyn wil koop oor dit dalk goedkoper is, moet jy seker maak jy ken jou pryse. Ek gaan kyk altyd eers op www.pricecheck.co.za vir die beste pryse.

 

4.  Ken jou mates.  Of jy nou huislike items koop of klere koop, maak seker jy ken jou mates. Gaan kyk by die winkel se sizing chart of die klere en skoene standaardgrootte is. Die mates staan ook gewoonlik daar. Lees onderaan die foto van die item watter grootte die model is en watter grootte sy dra.  Dit kan ook vir jou 'n aanduiding gee hoe die item aan jou sal sit. Ken ook jou lyf.  As die hemp byvoorbeeld los sit aan 'n slanke nommer 8 model, mag hy dalk stywer vir jou sit wat nommer 10 dra en meer volrond is. Op Wish.com kan jy onderaan elke item ander klante se opmerkings lees rakende die produk se kwaliteit en grootte. 

Maak seker die winkel vat pakkies terug en of jy dan die koste moet dra of hulle. Spree.co.za maak dit baie maklik om pakkies terug te stuur deur 'n vorm wat jy aanlyn kan invul.  Maak ook seker oor hul terugbetaling metode. Sommige winkels gee net krediet, maar meeste behoort jou geld weer oor te dra op jou kaart.

 

5.  Wanneer jy klere aanlyn koop, moet jy ook jou materiale ken. Lees mooi waarvan die bloes of broek gemaak is en as jy onseker is gaan lees jou gunsteling klere items se etikette. Dit behoort vir jou aanduiding te gee of die item duursaam is of nie.  Lees ook die skoonmaak spesifikasie deeglik.

 

6.  Ken jou handelsmerke.  Baie aanlynwinkels verkoop handelsmerke wat jy in die winkels ook kan kry.  As jy dalk vantevore 'n item by die spesifieke handelsmerk gekoop het, behoort jy te weet wat die kwaliteit is en hoe die groottes werk.

 

7.  As dit te goed is om waar te wees, is dit heel moontlik te goed om waar te wees!  Ek het al baie winskopies op die internet losgeslaan wat baie betroubaar en suksesvol was. Tog is ek ook 'n realis wat altyd doodseker maak die winskopie is eg.  Weereens speel dit 'n rol hoe betroubaar jou bron/webwinkel is. As dit een of ander pop-up is wat self op jou skerm verskyn het, bly eerder weg.  Gaan lees weereens die resensies rakende die winkel. Lees die reëls en regulasies. Kyk uit vir verskuilde bedrae wat na die tyd bygevoeg kan word. Lees hoe lank dit vat vir die item om jou te bereik. 

 

8.  As jy eers die water wil toets, koop 'n item met 'n klein bedrag by die winkel en kyk hoe dit gaan.  Dit behoort vir jou aanduiding te gee hoe hulle diens is.

 

8.  Moenie TE bang wees nie.  Baie mense koop glad nie op die internet nie en is heel tevrede so.  As jy 'n behoefte het om wel aanlyn te koop, moenie bloot wegbly oor jy oorversigtig is nie.  My wenke is die basiese beginsels van aanlyn koop.  As jy nogsteeds versigtig is, kry 'n ervare vriendin of jongmens om jou eers touwys te maak. Die internet kan baie deur vir jou oopmaak in die gerief van jou huis.

 

Lekker koop!

 

 

 

Please reload

©2018 by plattelandse-hart. Proudly created with Wix.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now